| Chapter 12 |
1 | Maar Job het geantwoord en gesê:
|
2 | Waarlik, ja, julle is die regte mense, en saam met julle sterf die wysheid uit!
|
3 | Ook ek het verstand soos julle; ek staan nie vir julle terug nie; en wie weet sulke dinge nie?
|
4 | Ek moet 'n belagging wees vir my vriend, ek wat God aangeroep en verhoring gevind het -- 'n belagging is die regverdige, die opregte!
|
5 | Vir die ongeluk is daar veragting volgens die gedagte van hom wat lekker lewe; dit staan klaar vir hulle wie se voet wankel.
|
6 | Rustig staan die tente van die verwoesters, en sekerheid is die deel van hulle wat God vertoorn, van hom wat sy god in sy hand dra.
|
7 | Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee;
|
8 | of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.
|
9 | Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?
|
10 | In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees.
|
11 | Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte spys proe nie?
|
12 | By die grysaards is wysheid, en in lengte van dae is verstand.
|
13 | By Hom is wysheid en mag; Hy het raad en verstand.
|
14 | Kyk, Hy breek af, en daar word nie opgebou nie; Hy sluit 'n man as gevangene op, en daar word nie oopgemaak nie.
|
15 | Kyk, Hy hou die waters terug, en hulle verdroog; ook laat Hy hulle los, en hulle keer die aarde om.
|
16 | By Hom is krag en beleid; syne is die verdwaalde en hy wat laat dwaal.
|
17 | Hy voer raadsmanne uitgeplunder weg, en regters maak Hy tot dwase.
|
18 | Hy maak die band los waar konings mee bind, en bind 'n lyfdoek om hulle heupe.
|
19 | Hy voer priesters uitgeplunder weg en bring wie vasstaan, tot 'n val.
|
20 | Hy neem die spraak van die betroubare mense weg en beroof die ou mense van hul oordeel.
|
21 | Hy stort veragting uit oor die edeles en maak die gordel van die magtiges slap.
|
22 | Hy openbaar dieptes uit die duisternis uit, en doodskaduwee bring Hy uit in die lig.
|
23 | Hy maak nasies groot en laat hulle omkom; Hy brei nasies uit en voer hulle weg.
|
24 | Hy neem die verstand weg van die volkshoofde van die land en laat hulle ronddwaal in 'n wildernis, sonder pad.
|
25 | Hulle tas in die duisternis, sonder lig; en Hy laat hulle ronddwaal soos 'n dronk man.
|