| Chapter 19 |
1 | Maar Job het geantwoord en gesê:
|
2 | Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?
|
3 | Nou tien maal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam.
|
4 | En het ek ook werklik my misgaan, dan bly my fout by my.
|
5 | As julle jul werklik teen my wil groot maak en teen my my smaadheid wil bewys,
|
6 | weet dan dat God my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het.
|
7 | As ek roep: Geweld! dan word ek nie verhoor nie; ek roep om hulp, maar daar is geen reg nie.
|
8 | Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei.
|
9 | My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem.
|
10 | Hy werp my aan alle kante omver, en -- daar gaan ek! En Hy het my verwagting uitgeruk soos 'n boom.
|
11 | Ook het Hy sy toorn teen my laat ontvlam en my beskou as een van sy vyande.
|
12 | As een man kom sy skare aan en baan 'n pad vir hulle teen my, en hulle slaan die laer op rondom my tent.
|
13 | My broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword.
|
14 | My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet.
|
15 | My bywoners en my slavinne beskou my as 'n vreemde; 'n onbekende het ek geword in hulle oë.
|
16 | Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek.
|
17 | My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot.
|
18 | Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my.
|
19 | Al my vertroude vriende het 'n afsku van my; en die wat ek liefgehad het, het hulle teen my gekeer.
|
20 | My gebeente kleef aan my vel en aan my vlees, en ek het slegs met my tandvlees ontsnap.
|
21 | Ontferm julle oor my, ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref!
|
22 | Waarom vervolg julle my, soos God, en word nie versadig van my vlees nie?
|
23 | Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in 'n boek opgeteken word --
|
24 | met 'n ystergriffel en lood -- vir altyd in 'n rots ingekap!
|
25 | Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.
|
26 | En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou;
|
27 | Hom wat k sal aanskou my ten goede, en my oë -- en geen vreemde nie -- sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste.
|
28 | As julle sê: Hoe sal ons hom vervolg, aangesien die wortel van die saak in hom gevind is! --
|
29 | vrees dan vir die swaard, want grimmigheid is een van die oortredinge wat die swaard verdien, sodat julle kan weet dat daar 'n oordeel is.
|