| Chapter 22 |
1 | Toe het lifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:
|
2 | Kan 'n man aan God 'n diens bewys? Nee, aan homself bewys die verstandige 'n diens.
|
3 | Het die Almagtige daar belang by dat jy regverdig is? Of is dit voordeel vir Hom dat jy onberispelik wandel?
|
4 | Is dit oor jou Godsvrees dat Hy jou bestraf, dat Hy met jou na die gereg gaan?
|
5 | Is jou boosheid nie groot en jou ongeregtighede nie sonder einde nie?
|
6 | Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek.
|
7 | Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou.
|
8 | Maar aan die man van geweld -- aan hom behoort die land; en die aansienlike -- hy moet daarin woon!
|
9 | Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel.
|
10 | Daarom is daar vangnette rondom jou en maak die vrees jou skielik skrik.
|
11 | Of sien jy die duisternis nie en die oorvloed van waters wat jou bedek?
|
12 | Is God nie hemelhoog nie? En aanskou hoe hoog die hoogste sterre staan.
|
13 | Maar jy sê: Wat weet God? Kan Hy deur donkerheid heen strafgerig hou?
|
14 | Wolke is 'n bedekking vir Hom, sodat Hy nie sien nie; en oor die hemelgewelf wandel Hy.
|
15 | Wil jy die pad van die ou tyd hou, wat die kwaaddoeners bewandel het,
|
16 | wat gegryp is voor die tyd, wie se grondslag uitgegiet is soos 'n stroom,
|
17 | wat tot God gesê het: Bly ver van ons af! en: Wat kan die Almagtige ons aandoen?
|
18 | En tog het Hy hulle huise gevul met wat goed is. Maar die gesindheid van die goddelose is ver van my!
|
19 | Die regverdiges sien dit en is bly, en die onskuldige spot met hulle en sê:
|
20 | Waarlik, ons teëstander is verdelg; en wat hulle laat oorbly het, het die vuur verteer.
|
21 | Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom.
|
22 | Neem tog uit sy mond onderrig aan, en lê sy woorde weg in jou hart.
|
23 | As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent.
|
24 | En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir.
|
25 | Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.
|
26 | Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot God ophef.
|
27 | Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal.
|
28 | Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn 'n lig.
|
29 | As die afdraand loop, dan sê jy: Boontoe! En hom wat neerslagtig is, verlos Hy.
|
30 | Hy red selfs hom wat nie onskuldig is nie: ja, hy word gered deur die reinheid van jou hande.
|