| Chapter 27 |
1 | En Job het verder sy spreuk aangehef en gesê:
|
2 | So waar as God leef wat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het --
|
3 | want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus --
|
4 | my lippe spreek geen onreg nie, en my tong verkondig geen bedrog nie!
|
5 | Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie.
|
6 | Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie.
|
7 | My vyand moet dus verskyn as goddelose en my teëstander as kwaaddoener.
|
8 | Want wat is die verwagting van die goddelose as Hy afsny -- as God sy siel wegneem?
|
9 | Sal God sy geroep hoor as benoudheid oor hom kom?
|
10 | Of sal hy hom kan verlustig in die Almagtige, God altyd kan aanroep?
|
11 | Ek sal julle onderrig aangaande die hand van God; wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie.
|
12 | Kyk, julle het dit almal self aanskou, en waarom koester julle dan 'n ydele hoop?
|
13 | D¡t is die deel van die goddelose mens by God en die erfdeel van die tiranne wat hulle van die Almagtige ontvang:
|
14 | as sy kinders baie word, is dit vir die swaard; en sy spruite word nie versadig met brood nie.
|
15 | Die wat van hom oorbly, word deur die pes begrawe, en sy weduwees ween nie.
|
16 | As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder --
|
17 | hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer.
|
18 | Hy het sy huis gebou soos 'n mot en soos 'n skerm wat die oppasser maak.
|
19 | Ryk gaan hy lê, maar hy doen dit nie weer nie; hy maak sy oë oop en -- is nie meer nie.
|
20 | Verskrikkinge oorval hom soos waterstrome; in die nag voer 'n stormwind hom weg.
|
21 | Die oostewind tel hom op, en daar gaan hy; en dit storm hom weg uit sy plek.
|
22 | En God werp op hom af sonder verskoning, vir sy hand moet hy haastig vlug.
|
23 | Hulle klap oor hom in hul hande en spot hom weg uit sy plek.
|