| Chapter 29 |
1 | 'n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is.
|
2 | As die regverdiges talryk word, is die volk bly; maar as die goddelose heers, sug die volk.
|
3 | 'n Man wat die wysheid liefhet, verbly sy vader; maar hy wat met hoere omgaan, bring die goed deur.
|
4 | 'n Koning hou deur reg die land in stand, maar 'n man wat belastings afpers, verwoes dit.
|
5 | 'n Man wat sy naaste vlei, sprei 'n net uit voor sy voetstappe.
|
6 | In die oortreding van 'n slegte mens is 'n strik, maar die regverdige sal jubel en bly wees.
|
7 | Die regverdige ken die reg van die armes, maar die goddelose verkry geen kennis nie.
|
8 | Manne wat spot, bring 'n stad in oproer, maar die wyse bring die toorn tot bedaring.
|
9 | Het 'n wyse man met 'n sot 'n regsaak, dan gaan die sot te kere en lag, sonder bedaring.
|
10 | Manne van bloed haat die regskapene, en hulle soek die lewe van die opregtes.
|
11 | 'n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar 'n wyse bring dit eindelik tot bedaring.
|
12 | 'n Heerser wat luister na 'n leuenagtige woord, sy dienaars is almal goddeloos.
|
13 | Die arme en die man wat verdruk, ontmoet mekaar, die HERE verlig altwee se oë.
|
14 | 'n Koning wat getrou aan die armes reg verskaf, sy troon sal vir altyd bevestig wees.
|
15 | Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar 'n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.
|
16 | As die goddelose vermeerder, vermeerder die oortreding; maar die regverdiges aanskou met welgevalle hulle ondergang.
|
17 | Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.
|
18 | As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos; maar hy wat die wet onderhou, gelukkig is hy.
|
19 | Met woorde laat 'n slaaf hom nie waarsku nie; want hy verstaan dit wel, maar hy steur hom daar nie aan nie.
|
20 | Het jy 'n man gesien wat haastig is in sy woorde? Vir 'n dwaas is daar meer hoop as vir hom.
|
21 | As 'n mens sy slaaf van jongs af verwen, word hy op die end ondankbaar.
|
22 | 'n Opvlieënde man verwek twis, en 'n driftige man is ryk aan oortreding.
|
23 | Die trotsheid van 'n mens verneder hom, maar die nederige van gees sal eer verkry.
|
24 | Hy wat saam met 'n dief deel, haat sy eie siel; hy hoor die beswering, maar openbaar niks nie.
|
25 | Die vrees vir die mens span 'n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.
|
26 | Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van 'n mens kom van die HERE.
|
27 | 'n Man van onreg is vir die regverdiges 'n gruwel, en vir die goddelose is die opregte van wandel 'n gruwel.
|