| Chapter 31 |
1 | Die woorde van Lmuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het:
|
2 | Wat, my seun, ja wat, seun van my skoot, ja wat, seun van my geloftes, sal ek sê?
|
3 | Gee jou krag nie aan vroue of jou omgang aan die wat konings uitroei nie.
|
4 | Die konings, o Lmuël, die konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie;
|
5 | anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges.
|
6 | Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan, en wyn aan die wat bitter bedroef is.
|
7 | Laat hy drink en sy armoede vergeet en aan sy moeite nie meer dink nie.
|
8 | Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn.
|
9 | Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige.
|
10 | Alef. Wie sal 'n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.
|
11 | Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie.
|
12 | Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.
|
13 | Dalet. Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande.
|
14 | He. Sy is soos die skepe van 'n handelaar -- van ver af bring sy haar brood in.
|
15 | Wau. En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies.
|
16 | Sajin. Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy 'n wingerd.
|
17 | Get. Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig.
|
18 | Tet. Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie.
|
19 | Jod. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas.
|
20 | Kaf. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige.
|
21 | Lamed. Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof.
|
22 | Mem. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper.
|
23 | Noen. Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit.
|
24 | Samek. Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars.
|
25 | Ajin. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom.
|
26 | Pe. Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong.
|
27 | Sade. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie.
|
28 | Kof. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar:
|
29 | Resj. Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal.
|
30 | Sjin. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; 'n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word.
|
31 | Tau. Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.
|